https://lowvelder.co.za/wp-content/uploads/sites/44/2019/11/4-LEKKER.jpg

Lekkerbekke sluit die jaar af by La Villa Vita

Die Laeveld Lekkerbekke het onlangs die jaar afgesluit met ‘n uithaler-aansitete op ‘n terras buite by La Villa Vita, een van die voorste onthaalplekke en gasteverblywe hier in Mbombela.

by

MBOMBELA – Daarmee saam het die wynmense, Distell, ‘n wynmeester uit Johannesburg laat kom om twee van hulle spesiale erfeniswyne uit die gesogte Nederburg Heritage Heroes-reeks te deel.

Om die aand nóg meer feestelik af te skop het die wynmeester, Chris de Klerk, gewys hoe om ‘n bottel vonkel met ‘n spesiale sabel die nek af te kap, waarna ‘n paar van die manne dit net so suksesvol reggekry het.

LEES OOK: Maak kampkos in 1-2-3 met dié resepte

Die Laeveld Lekkerbekke is ‘n broeder- en susterskap van kosliefhebbers wat gereeld aansit om die jongste eetplekke en giere van kosmaak plaaslik op die proef te stel. Die samesyn duur al etlike jare en daar is al meer as 70 keer so byeengekom. Die groep is nie eksklusief nie en enigeen is welkom om in te skakel deur die naam- en e-posbesonderhede te laat by marius@lowveldmedia.co.za.

https://lowvelder.co.za/wp-content/uploads/sites/44/2019/11/1-LEKKER.jpg

So kry almal op die Lekkerbek-lys ‘n uitnodiging, maar net 30 kan op ‘n keer saam aansit. Is jy te laat om plek te kry, geniet jy voorkeur met die volgende, en so kry elkeen gereeld ‘n geleentheid.

Soos altyd was die kos by La Villa Vita weer eens uitstekend. Die voorgereg was ‘n keur van tempura-garnale met ‘n suurlemoen-knoffelbedruip of salmtartaar met avokado, klein tamaties, vars koljanderblare met ‘n soja-gemmerbedruip, altwee goed gegeurde geregte, met die Young Air Hawk, ‘n swaarder as gewone gehoute Sauvignon Blanc wat lieflik daarmee kon kersvashou.

https://lowvelder.co.za/wp-content/uploads/sites/44/2019/11/2-LEKKER.jpg

As hoofgereg was die keuse ‘n gawe 300 g-bieffilet, myne net skrikgemaak in die pan, bedien met Brie, uiemarmalade, klein knoffelbotteraartappels en ‘n sampioensous. Die ander keuse was ‘n uithalerhoender en garnaal-kokosneutkerrie, bedien met knoffel, sambal, poppadum en basmatirys.

Hiermee saam is die Motorcycle Marvel, ‘n volronde Rhône-styl versnit van 32 % carignan, 31 % shiraz, 14 % grenache, 15 % cinsaut en 10 % Mouvèdre bedien.

https://lowvelder.co.za/wp-content/uploads/sites/44/2019/11/3-LEKKER.jpg

Die baie spesiale versnit vereer Nederburg se legendariese wynmaker, Günter Brözel, wat van 1956 tot 1989 in die kelder was by Nederburg. Hy was bekend daarvoor om sy wingerdbesoek te doen op ‘n klassieke 250cc-motorfiets en vandaar die naam.

Die nagereg was ‘n ouwêreldse crêpe Suzette met lemoenstroop en vanieljeroomys om ‘n ete af te sluit, wat weer eens bewys het watter hoë gehalte onthaal ‘n mens hier in die Laeveld kan verwag.

LEES OOK: Pro Gratia-studente sprei hul vlerke